WITSAND - 1928 - 2008
WITSAND-EEUFEES
1908 – 2008
Witsand was deel van die plaas Westfield wat op 10 Oktober 1831 deur die Britse Koloniale regering aan Kaptein Benjamin Moodie geskenk is 1.
In die laat 1800s het die boere van Heidelberg en die dorpenaars met die toestemming van die Moodies graag op Witsand vakansie kom hou. Die eerste geboutjie wat in Witsand opgerig is, was die kliphuisie van Ds Daneel, die eerste predikant van die kerk op Heidelberg. Die mense het die huisie gevolglik die “Ou Pastorie” genoem. In daardie tyd, rondom 1880, was daar geen sprake van ‘n dorpie nie, die vakansiegangers het sommer in tente en riethuisies rondom die Ou Pastorie uitgekamp 2.
Die Moodies het later aan beroepsvissermanne ook toestemming verleen om huisies op te rig en aangesien al hoe meer mense graag ‘n strandhuisie op Witsand wou bou, het die broers, Benjamin en Daniel Moodie, wat toe die eienaars van Westfield was, in 1908 ‘n landmeter gekry om ‘n gedeelte van die plaas af te sny, en erwe daarop uit te meet.
Op 30 Desember 1908 is 65 morge van Westfield afgesny en as die Witsand-gedeelte in die naam van Ben en Dan Moodie geregistreer by wyse van ‘n aparte titelakte 3.
Die eerste sowat 118 erwe is in 1908 deur landmeter Wilson Greathead op Witsand uitgemeet en die eerste 16 of 17 eienaars het dan ook op dieselfde datum, 30 Desember 1908, “kaart en transport” van hulle erwe ontvang 4. In daaropvolgende jare is heelwat erwe aan ander kopers verkoop en binne enkele jare het daar twintig tot dertig huise in Witsand gestaan.
Ek het die datums van oordrag en die vroegste kaarte van Witsand met mnr Spencer Wiggins in die kantoor van die Landmeter-Generaal, Kaapstad, bespreek en hy stem saam dat daar nie ‘n vroeër datum is wat as die ontstaansdatum van die dorp beskou kan word nie. Die datum 30 Desember 1908 is toevallig dieselfde datum waarop Witsand van Westfield afgesny is asook waarop die eerste eienaars amptelik besit geneem het van die eerste erwe. Witsand kan dus op 30 Desember 2008 sy eeufees vier. Witsand is terloops eers in 1951 as “Plaaslike Gebied” geproklameer5, maar toe was dit reeds baie jare ‘n dorpie in eie reg.
Port Beaufort spog natuurlik met ‘n veel vroeër ontstaansdatum want dit is deur die Koloniale regering op 31 Januarie 1831 in die hande van ‘n trust geplaas met die opdrag om daar ‘n hawe tot stand te bring 6. Port Beaufort is vanjaar 177 jaar oud en ons kan sy tweede eeufees dus in 2031 vier!
Verwysings:
- Swellendam-erfpag, folio AF 307 (10 Oktober 1831)
- HC Hopkins. 1955. Eeufeesgedenkboek vd Ned Geref Kerk Heidelberg. (p 18 - 19)
- Titelakte 9432 van 1908
- Titelaktes 9434 tot 9450 van 1908
- Proklamasie 21/1951
- Titelakte gedateer 31 Jan 1831
Inligting saamgestel deur: Skakelkantoor vir die Feesreëlings:
Dr Jan Langenhoven Cara Carr
Posbus 71 Witsandtoerismekantoor
Witsand Tel 028 537 1010
6666 E-pos: wact@telkomsa.net